top of page

Simboliese voorstelling: die begin en einde  van Zaaimans se trek van Noord na Suid 

Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) het 'n vaste halfwegstasie vir hulle skeepsverkeer tussen Nederland en Oos-Indië nodig gehad. In 1638 is Pieter de Goijer deur die VOC gestuur om die nuwe pos op Mauritius te gaan stig (Sleigh, D. 1993. Die Buiteposte. Pretoria: HAUM Uitgewers). Om hierdie onderneming suksesvol te maak, het die Kompanjiesregering ook besluit om Vryburgers daar te vestig met die opdrag om gewasse te verbou en ook om ebbehout vir uitvoer te lewer.

 

Daniël Zaaijman het waarskynlik ook in opdrag van die VOC vanaf Vlissingen, Nederland na Mauritius gegaan om daar, onder andere, met patats te gaan boer. Hy was 'n kuiper van beroep.
 

Die vryburgers van Mauritius was ontevrede met die bestuurstyl van die eiland se opperhoof, Kommandeur Hugo. Daniël Zaaijman was deel van 'n afvaardiging vryburgers wat vanaf Mauritius na die Kaap gegaan het met klagtes oor Kommandeur Hugo. Terwyl hulle in die Kaap was, is 'n nuwe opperhoof op Mauritius, Isaac Johannes Lamotius, in die plek van Hugo aangestel.

 

In 1677 vertrek Daniël Zaaijman en Pieternella van Meerhof met dieselfde hoeker, Boode, van die Kaap na Mauritius. Op 13 Oktober 1677 word hulle deur opperhoof Lamotius op Mauritius in die huwelik bevestig.

 

Sy het die moeder van 'n groot familie geword, en hulle was van die eiland se mees welvarende vryburgers (Sleigh, D. Die Buiteposte, Pretoria: HAUM Uitgewers).

 

Aangesien dit later nie meer lonend was om vryburgers op Mauritius te laat boer nie, ontbied Opperhoof Momber op 3 November 1707 alle gesinshoofde. Hulle moes kies of hulle na Batavia of die Kaap wou emigreer. Op 25 Desember 1708 vertrek die galjoot Mercurius met slegs drie gesinne, onder andere Daniël Zaaijman met sy vrou, ses kinders en tien slawe terug na die Kaap. Hulle arriveer op 26 Januarie 1709.

bottom of page